Canolafokus 11 Junie 2001
Artikels indeks
Nuus vanaf die Canolabedryfskomitee
Belangrikheid van die gebruik van gesertifiseerde saad
Nuus vanaf die Canolabedryfskomitee
Inleiding
Canolaprodusente in die Suid-Kaap en Swartland het 'n paar jaar gelede 'n Canolabedryfskomitee (CBK) gevorm om na produsente se belange om te sien.
Buiten die CBK se gereelde vergaderings word daar ook jaarliks 'n Canolakonferensie gehou. Dit dien as 'n platvorm waar canolaprodusente hulle behoeftes oor die bedryf kan stel. Hierdie konferensies vind elke jaar gedurende Februarie plaas.
Die CBK bied ook jaarliks 'n Canola Boeredag aan om tegniese inligting oor die bedryf aan produsente oor te dra. Hierdie Boeredag vind gedurende September elke jaar plaas.
Organisatoriese bedeling
Die CBK het sedert Maart 2001 by Graan Suid-Afrika ingeskakel. Die CBK sal steeds bly funksioneer en deur middel van GSA se Oliesade Spesialis Werkgroep inskakeling by GSA vind.
Die Komitee word jaarliks by die Canolakonferensie deur produsente uit die onderskeie produksiestreke verkies. Die huidige samestelling sien soos volg daar uit, naamlik:
Piket / Swartland | DW (Pien) Bester |
Malmesbury | F (Fanie) Walters |
Overberg / Suidpunt | JJB (Liohan) Giliomee |
Swellendam / Heidelberg | D (Dirk) van Papendorp |
Riversdal / Albertinia / Mosselbaai | CD du Toit |
Swartland | J (Johan) de Lange |
Suid-Kaap | HJ (Hennie) Steyn JJ (Seppie) Morkel |
Swartland | Charl van der Merwe |
Suid-Kaap | Pierre Laubscher Jannie Bruwer |
2001 Canolakonferensie
Die afgelope konferensie het op 14 Februarie 2001 te Caledon plaasgevind.
Openingspreker
Die openingspreker was dr Carl Albrecht, Koördineerder van Navorsing van die Kankervereniging van Suid-Afrika. Sy openingsrede het oor "Canola as gesondheids-voedsel" gehandel waaruit die volgende geblyk het, naamlik dat:
- ons lewensstyl bydraend tot die meeste kankers is;
- die drie vernaamste lewensstyl oorsake is tabak, (30%) voeding / dieët (40-60%) en bestraling (UV en X-straal) (10%);
- die herstel van 'n gesonde balans in ons dieët 'n deurdringende rol kan speel om die risiko vir degeneratiewe siektes soos kanker en hartsiektes, daadwerklik te verminder;
- canola olie het 'n samestelling wat beduidend van ander plantolies verskil;
- by canola olie is die belangrikste aspek die teenwoordigheid van omega-3 vetsuur en dat die verhouding van omega-6 tot omega-3 van 2:1 is; en
- talle publikasies bestaan wat aandui dat omega-3 vetsure 'n belangrike rol speel in die voorkoming en / of verbetering van verskeie siekte onder andere hartsiektes en kankers.
Ter opsomming word die volgende ses aspekte graag vermeld, naamlik:
- die wanbalans in ons moderne dieët is die oorsaak van die meeste kankers en speel 'n groot rol in die ontstaan van ander siektes;
- omega-3 vetsure speel 'n belangrike en bewese rol om talle siektes insluitende bors, kolon en prostaatkanker te voorkom;
- die verhouding van omega-6 tot omega-3 vetsure is erg versteur in die moderne dieët. In plaas van 'n verhouding van 1 tot 1 is dit 10 tot 1, dit wil sê tien keer te veel omega-6 vetsure.
- canola olie bevat die meeste omega-3 vetsure van alle plantolies;
- dit volg dus logies dat verhoogde inname van canola olie voordelig vir gesondheid behoort te wees; en
- hierdie belangrike gesondheidsboodskap behoort aan die breë publiek uitgedra te word.
Die referaat is op aanvraag by Agri Wes-Kaap (Tel: 021-8721618) beskikbaar.
Canola cultivars, genetiese aspekte, die invloed van GMO in canola cultivarontwikkeling en aanwendingsmoontlikhede
Mnr Corne Meyer, Advanta Africa Seeds (Pty) Ltd het 'n baie interessante referaat gelewer oor die onderwerp waarin die gebruikswaarde, voordele vir die produsent en verbruiker, verskeidenheid cultivars om uit te kies na gelang van klimaats en ander omstandighede.
Die referaat is op aanvraag by Agri Wes-Kaap (Tel: 021-8721618) beskikbaar.
Die rol van "GMO" tegnologie by cultivarontwikkeling
Mnr Andrew Comrie van Hygrotech Saad het 'n meer algemene referaat gelewer om die rol van GMO tegnologie by cultivarontwikkeling toe te lig. Sy referaat is ook op aanvraag beskikbaar.
Canola webwerf
Die CBK ondersoek die moontlike vestiging van 'n webwerf waardeur canolaprodusente inligting oor produksie en oestegnieke kan bekom. Daar word beplan om die webwerf in die tweede helfte van 2001 operasioneel te hê.
Belangrikheid van die gebruik van gesertifiseerde saad
Cultivars het sekere karaktereienskappe, byvoorbeeld swartstamweerstand, springtraagheid, univormiteit, groeiseisoen lengte en olie-inhoud, wat uniek is aan daardie cultivar. Baie tyd en geld word deur die telers gespandeer om top kwaliteit cultivars aan die boere te bied. As gevolg van die kruisbestuiwende komponent van canola vind degenerering van die eienskappe vinnig plaas indien saad van een generasie na 'n ander oorgedra word. 'n Opname oor die kwaliteit van boere canola saad deur Agriculture Victoria, Australië, het die volgende statistieke opgelewer:
Eienskap | Gemiddeld | Omvang |
---|---|---|
Opkoms | 26.2% | 0-97% |
Groeikragtigheid | 26.2% | 0-97% |
Opbrengs | 12.4% | 0-76% |
Behalwe die moontlike verlies aan prestasie wat jy kan ly as jy saad terughou, skep onkruid kontaminasie ook 'n probleem. Dit bemoeilik onkruidbeheer, verhoog produksiekoste en kan prys penalisasie teweeg bring as gevolg van 'n swakker kwaliteit produk.
Ten laaste moet onthou word dat saadmaatskapye wetlik verplig word om saad standaarde en kwaliteitseienskappe te waarborg. Teen 3-5kg saad/ha is gesertifiseerde saad dus verreweg 'n uitstekende vertrekpunt. SSK koop nie canola van teruggehoude saad aan nie omdat die kwaliteit van die olie verswak.
Die inligting in hierdie skrywe is bekom uit 'n artikel van Dr TN Kotzé, Agricol (Edms.) Bpk, Die benadering tot cultivarkeuse. Verdere navrae kan gerig word aan die outeur of redaksie van die pamflet.
Enquiries
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Private Bag, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation