OAK/OPOT-Nagraadse Studiebeurs
Doel van die studiebeurs
Die doel van dié beurs is om verdienstelike kandidate die geleentheid te bied om 'n M-graad te verwerf wat hul in staat sal stel om 'n bydrae te maak tot hoë gehalte wetenskaplike navorsing in oliesade. In hierdie geval moet die studie onderwerp binne die breë raamwerk van OAK/OPOT se doelstellings val. Beurse vir 'n D-graad sal ook oorweeg word indien die studie onderwerp as 'n hoë prioriteit beskou word deur OAK/OPOT.
Vereistes
Die beurs is tot beskikking van burgers van die Republiek van Suid-Afrika wat oor die toelatingsvereistes vir 'n Meesters- of Doktorsgraad van 'n erkende tersiêre instelling beskik.
Beoordeling
Die beurs word volgens verdienste toegeken en in die geval van die D-graad ook volgens OAK/OPOT se behoefte aan die spesifieke studie.
Waarde van en aantal beurse
Die totale waarde van die beurs wissel na gelang van die omvang van die studie. Vir die Meestersgraad is die riglyn 2 jaar en vir die Doktersgraad, 3 jaar. Die beurse beloop tans R70 000 per jaar. Die bedrag ter sprake word aan die begin van elke akademiese jaar direk aan die kandidaat oorbetaal nadat bewys ontvang is dat die kandidaat by die Universiteit vir die betrokke akademiese jaar aanvaar en geregistreer is. Die toekenning van 'n beurs gedurende die eerste jaar, is nie 'n waarborg dat sodanige toekenning in die daaropvolgende jare herhaal sal word nie. Beurstoekennings vir die daaropvolgende akademiese jaar sal betaal word na ontvangs van 'n dokument deur die studieleier dat bevredigende vordering in die voorafgaande akademiese jaar gemaak is, asook bewys van herregistrasie by die universiteit deur die kandidaat.
Verpligtinge
Die suksesvolle kandidaat moet 'n goedgekeurde navorsingsprojek uitvoer onder leiding van 'n erkende studieleier aan 'n erkende universiteit. Die projek kan aangewend word as gedeeltelike vereiste vir 'n nagraadse kwalifikasie. 'n Formele kontrak moet onderteken word deur beide partye.
Vorderingsverslae
Die beurshouer word versoek om benewens die normale vorderingsverslae van die studieleier gedurende die navorsingsperiode ook 'n finale verslag (tesis) by voltooiing van die navorsing in te dien.
Keuring van kandidate
Keuring vind reeds by die universiteite plaas en kandidate wat vir die eerste keer aansoek doen word in prioriteitsvolgorde gelys. Die aansoeke van gekeurde kandidate wat deur die universiteite voorgelê word, sal deur OAK/OPOT gedurende Oktober oorweeg word. Gekeurde kandidate kan versoek word om op OAK/OPOT se koste 'n persoonlike onderhoud met OAK/OPOT te voer. Die uitslag van OAK/OPOT sal onmiddellik na die vergadering bekend gemaak word (30 November).
Sluitingsdatum
Voltooide aansoekvorms moet die OAK/OPOT bereik teen 30 September 2025.
Verdere besonderhede en aansoekvorms is verkrygbaar by
Die Hoofuitvoerende BeampteOliesade Advieskomitee
Posbus 5562
Rivonia
2128
info@opot.co.za
+27 11 234 3400
+27 11 234 3401