OPDT   OIL & PROTEIN SEEDS DEVELOPMENT TRUST
OAC   OILSEEDS ADVISORY COMMITTEE

OPDT
OIL & PROTEIN SEEDS DEVELOPMENT TRUST

OAC
OILSEEDS ADVISORY COMMITTEE


Notule

Sonneblom- en Sojaboonforum (SSF)
gehou op 2 Augustus 2006 om 10:00 by die kantore van die Oliesadebedryf, Rivonia

  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr Gerhard Keun.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teenwoordig welkom by die vergadering.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr M Griessel PNS
    Mnr S Oberholzer OVK
    Mnr CJ Wegner PPECB
    Mnr GD de Bruin NWK
    Me R Beukes NDL
    Me A Enslin SAGIS
    Me L Moolman NLBR
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Dr J de Kock PNS
    Mnr DJ Kok GSI
    Mnr PG Louw GSI
    Mnr N Baloyi NDL
    Mnr M Mosone NDL
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Mnr S van Zyl GSA
    Mnr GJ Pretorius GSA
    Mnr G Keun Sekretaris

    Verskonings

    Mnr WA Loubser SANSOR
    Mnr AC Prinsloo SAOPA
    Mnr E Mphato NLBR
  4. Personalia

    Geen.

  5. Sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met aanvulling tot

    • Item 8.1 – Plantvooruitsigte/oesskattings – voorgenome sonneblomaanplantings

    en toevoeging van die volgende besprekingspunte

    • Item 8.8 – Aansoek om afskaffing van heffing op sojabone: SASOL
    • Item 8.9 – Voedselhigiëne en -veiligheid
  6. Goedkeuring van notule

    Besluit:

    1. Dat die notule van die vergadering van die Sonneblom- en Sojaboonforum gehou op 13 Februarie 2006 goedgekeur word.
  7. Sake voortspruitend

    1. Bemarkingsaspekte

      1. SAGIS

        1. Markinligting

          Die Voorsitter vra Me Enslin of daar enige byvoegings of hoogtepunte in die SAGIS (Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens)-verslag is wat sy wil bespreek. Me Enslin wys daarop dat die ondersoek deur SAGIS na die verskillende verwerkingsprosesse in die verslag. Sy meld dat daar met al die sojaboonverwerkers in verbinding getree en uitgeklaar is hoe dit hanteer behoort te word. Die nodige aanwysings is per handleiding en per brief verskaf. Tegniese inligting is ook terugwerkend aangepas sodat dit vergelyk kan word met die inligting van vorige jare. Die Voorsitter vra of sy verwys na besluit 7.1.1.1.3 en meld dat daar ooreengekom is dat die definisies, sodra herskryf, aan die industrie gestuur sal word vir kommentaar.

          Me Enslin bevestig dat die definisies vir opgawe-doeleindes wel opgestel is, en dat dit gestuur is vir kommentaar aan die persone wat spesifiek betrokke is. Kennis word geneem dat 'n ooreenkoms bereik is oor die hersiene definisies.

          Met verwysing na tabel 1.2 'Oliesade verwerk vir binnelandse verbruik', meld die Voorsitter dat dit hom spesifiek opgeval het dat daar aangedui word dat geen soja vir dierevoer verwerk is nie, terwyl volvet soja wel vir die doel aangewend is. Die Voorsitter het sy besorgdheid uitgespreek dat hoewel die verwerking van soja en die verwerking van volvet soja vir dierevoer moontlik kan verwys na dieselfde proses, dit nie in die hersiene definisies omvat is nie. Me Enslin wys daarop dat daar met die industrie ooreengekom is om die gebruik so aan te dui. Sodra die sojabone vir volvet soja geprosesseer is, is daar nie sekerheid oor waarvoor die produk uiteindelik aangewend sal word nie. Aangesien volvet soja hoofsaaklik vir dierevoer aangewend word, word dierevoer aangedui onder volvet soja. Slegs wanneer soja met ander volgraan produkte soos sonneblom gemeng word, sal dit as dierevoer aangedui word. Daarom sal die syfer aangedui vir die aanwending van soja vir dierevoer altyd baie laag wees. Dr Griessel meld dat die meerderheid volvet soja aangewend word in die dierevoer industrie. Mnr Louw meld dat daar ooreenstemming bereik is in die industrie dat volvet soja as sodanig aangedui word. Volvet soja dui op alle gebruik, of dit 90% vir dierevoer, of 10% vir menslike gebruik is al dan nie.

          Me Enslin hou die verslag van SAGIS voor aan die vergadering. Sy wys daarop dat die lewering van sonneblom teen einde Junie sowat 87% van die oesskatting beslaan, en 'n daling toon vergeleke met die vorige jaar. Die kommersiële lewering van sojabone teen einde Junie beloop 383 000 ton. Met verwysing na par.4.6 in die verslag, rakende die SAGIS-ondersoek na die invloed van die verwerking van bio-brandstof op die opgawes, statutêre maatreëls en die SAGIS-opgawestelsel, rapporteer Me Enslin aan die vergadering dat onsekerheid bestaan aangaande die presiese hoeveelheid oliesade wat verwerk word vir die bio-brandstof bedryf, en haar aanbeveling is gevolglik dat hierdie statistiek nie afsonderlik aangedui word in die opgawes tov canola, sonneblom en sojaboon nie.

          Mnr Potgieter opper die vraag oor hoe daar dan vasgestel sou kon word welke hoeveelheid sojabone vir die vervaardiging van bio-diesel aangewend is, gesien in die lig van Sasol se aansoek om afskaffing van dié invoerheffing. Die Voorsitter stem saam dat duidelikheid in dié verband verkry sou moet word: indien die invoerheffing op heel sojabone afgeskaf word, sou hy hom dit moeilik kon indink dat 'n voorwaarde sou wees dat die heel sojabone vir bio-brandstof vervaardiging aangewend moet word. Sasol sou 'n opgawe moet indien van die hoeveelheid sojabone geprosesseer indien hulle sou wou kwalifiseer vir dergelike rabat. Mnr Louw meld dat daar onderskeid getref sal moet word tov die inligting verskaf deur SAGIS en die verantwoordelikhede van die SA Inkomste Dienste (SAID) en dergelike instansies om self die tersaaklike inligting te bekom. SAGIS sal bloot moet verslag doen oor die hoeveelhede soja ingevoer. Me Enslin bevestig dat daar deur SAGIS verslag gedoen sal word oor die hoeveelheid sojabone gepers.

          Indien Sasol of 'n ander bio-brandstof vervaardiger by SAGIS registreer as medewerker, sou SAGIS kon verslag lewer oor die hoeveelheid sojabone deur hulle ontvang en verwerk. Mnr Potgieter spreek sy kommer uit dat daar onsekerheid sal wees of bone wat ingevoer word wel kwalifiseer vir die rabat op die invoerheffing. Die Voorsitter wys daarop dat die verslag wél sal aandui hoeveel sojabone ingevoer is, dat daar nie sekerheid sal wees watter hoeveelheid Sasol benut vir die produksie van bio-brandstof nie, maar dat dit uiteraard 'n funksie van SAID sou wees om dit vas te stel. Die hoeveelheid sojabone aangewend vir menslike gebruik is egter gering, en hy voorsien nie veel probleme nie.

          Die Voorsitter vra dat die vergadering die dokument insake SAGIS markinligting, gedateer 2 Augustus 2006, bladsy vir bladsy deurgaan, en vrae stel of kommentaar lewer. Met verwysing na die tabel insake kommersiële lewerings, merk hy op dat die kommersiële lewering van sojabone in die tabel gereflekteer word as 340.1 duisend ton, maar dat dié syfer lewering teen einde Mei 2006 verteenwoordig. Me Enslin het die vergadering vroeër ingelig dat die lewering teen einde Junie 383 duisend ton beloop het. Die totale oesskatting vir sojabone op 390 duisend ton is dus reeds feitlik behaal. Die oesskatting vir sonneblom was 538.5 duisend ton, met 460 duisend ton reeds gelewer.

          Die Voorsitter versoek dat die rolspelers betrokke by die prosessering van bio-brandstof voortaan uitgenooi sal word na die vergaderings van die Sonneblom- en Sojaboonforum.

          Die Voorsitter meld dat daar nie veel voorraad by die boere gestoor kan wees indien die lewering van sojabone na aan die oesskatting syfer is nie.

          Die afleiding word gemaak dat daar nie baie voorraad oor sal wees aan die einde van die seisoen nie. Met verwysing na die lewering van 460 000t sonneblom vra Mnr Potgieter of Me Enslin aan die hand van historiese feite kan aandui watter persentasie van die oeskatting normaalweg teen die einde van Junie gelewer is. Me Enslin antwoord dat 89% van die totale oesskatting gewoonlik teen Junie gelewer is en dat die persentasie-lewering van sonneblom dusver 87% beloop. In teenstelling met vorige jare, was Mei en Junie se lewering van sonneblom omtrent eweveel waar die lewering van soja in Mei beduidend meer was as dié in Junie.

          In antwoord op 'n vraag van die Voorsitter na die lewering van die verwagte oesskatting meld Mnr Louw dat die silo-eienaars bekommerd is dat nie eers die laer sonneblomlewering gerealiseer sal word nie. Daar word berig dat die sonneblomoesskatting in sekere gebiede afwaarts aangepas moes word. Me Enslin meld dat ongeveer 'n verdere 70 000 ton sonneblom na verwagting gelewer sal word. Mnr Louw noem dat die opbrengs op die plase baie swakker is as verwag. Mnr van Zyl berig dat die opbrengste veral in die Vrystaat teleurstellend is en dat GSA se laaste twee oesskattings afwaarts aangepas is. Dit blyk dat die afwaartse tendens ten opsigte van sonneblom waarskynlik sal voortduur. Die Voorsitter versoek Mnr Keun om die sakelys aan te pas sodat die oesskattings in die toekoms bespreek word voor die SAGIS-markinligting.

          Die Voorsitter vra Me Beukes om inset te lewer aangaande die oesskattings. Sy berig dat die eerste skatting in vergelyking met die sesde skatting van sonneblom 'n daling van 67 200 ton of 12,5% reflekteer vanaf Februarie tot in Junie. Indien die afgelope ses jaar se historiese inligting as maatstaf gebruik word, moet daar nog ongeveer 11% gelewer word. 'n Projeksie wat hierop gebaseer is, en op 'n skrywe van die Graan SA, toon dat die oeslewering op die laagste 490 000 ton en op die hoogste 550 000 ton sal wees, met 'n gemiddelde skatting van 515 000 ton. Mev Beukes meld dat sy twyfel of die skatting ná die sesde skatting veel sal verander.

          Mnr van Zyl vra of daar enige aanduiding is hoeveel sonneblom tydelik in plastieksakke gestoor word. Mnr Louw dui aan dat dit onprakties sou wees, en dat GSI nie bewus is van so 'n praktyk nie. Me Enslin berig dat daar na haar wete een handelaar is wat wel die praktyk volg, maar spreek haar onsekerheid uit of dit sonneblom of soja is wat so gestoor word. Mnr Pretorius dui aan dat die NWK syfers aandui dat hulle ongeveer 10 000 ton onder die oesskatting is, en dat die opbrengs 1.0 ton p/ha is, en wel ongeveer 0,96 ton p/ha. Me Enslin noem dat SAGIS daardie middag inligting aangaande die hoeveelhede gr. 1, gr. 2, gr. 3 en ondergraad mielie-oes op hulle webwerf sal laai.

          Besluit:

          1. Dat kennis geneem word van die inhoud van SAGIS se verslag.

            Lede

          2. Dat kennis geneem word van die oesskattingsyfers.

            Lede

    2. Sojaboon- en sonneblomcultivarevaluasie komiteevergaderings

      Mnr Keun berig dat hy na aanleiding van die gesprek tydens die vorige vergadering die LNR versoek het om terugvoering te gee oor die neem en ontleed van grondmonsters by die gronde waar cultivarproewe geplant is. Dr du Plessis meld dat sy ná Dr Loubser se aftrede met Dr Nel in gesprek getree het. In die huidige seisoen is daar drie lokaliteite in Potchefstroom en een lokaliteit op Bothaville waarvan grondmonsters geneem is. Hoewel daar in die verlede van die medewerkers verwag is om die grondmonsters te neem, is dit nie gedoen nie. Die afgelope seisoen het een medewerker op Lichtenburg en een op Koster dit wel gedoen. Vir die huidige seisoen is ses grondmonsters beskikbaar gestel.

      Dr Griessel meld dat sy standpunt in dié verband duidelik is, en dat hy dit al verskeie kere by die Sojaboonwerkgroep gemeld het. Hy aanvaar dat mnr Pretorius dit ook by die Sonneblomwerkgroepe gemeld het. Dit is geweldig duur om die cultivarevaluasieproewe te doen en indien die grondontledings nie gedoen is nie, die resultate uiteindelik nie betekenisvol is nie.

      Die Voorsitter meld dat Dr Griessel en Mnr du Plessis in die verlede die Sojabooncultivarevaluasie vergaderings bygewoon het, en dat Mnre Potgieter en Pretorius die Sonneblomcultivarevaluasie vergaderings bygewoon het.

      Die LNR word befonds om die grondmonsters te neem, en dit is gevolglik die LNR se verantwoordelikheid om toe te sien dat die medewerkers wèl die grondmonsters neem.

      Hy versoek dat die misverstand by die volgende cultivarevaluasievergadering wat plaasvind op 6 September uit die weg geruim kan word.

      Mnr Pretorius wys daarop dat daar gekyk moet word na die opbrengste in die land as geheel, met byvoorbeeld die Oos-Vrystaat wat fantastiese sonneblom-opbrengste gekry het, in vergelyking met swak opbrengste uit ander streke. Hoewel hy ten gunste is van cultivarevaluasie, behoort elke enkele produsent tot 'n groter mate sy eie evaluasie onder sy eie omstandighede onder sy eie bewerkingspraktyke te hanteer.

      Wat betref die versoek gerig aan die LNR-IGG insake die analise van grondmonsters vra die Voorsitter of die analise deur die LNR self onderneem word. Dr du Plessis bevestig dat die analise deur LNR-IGKW in Pretoria onderneem word, en Dr Griessel meld dat dié analise spesifiek vir grondklimaat-variasie gedoen word. Daar is ook versoek dat die uitslag deur 'n tweede laboratorium verifieer word, aangesien daar gedurende die afgelope jaar of twee vanaf die befondsingskant 'n verskeidenheid gevalle waargeneem is waar ontledings ontvang só verskil het dat die uitslae in twyfel getrek is. Die Voorsitter sê dat indien dit addisionele kostes tot gevolg het dit in die projekvoorlegging ingewerk moet word.

      Besluit:

      1. Dat tydens die Sonneblom- en Sojabooncultivarevaluasie komiteevergaderings die aange­leentheid insake die neem van grondmonsters weer bespreek word

        Dr Griessel
        Mnr Pretorius

      2. Dat grondmonsters by alle lokaliteite waar cultivaproewe geplant word geneem word en tydig ontleed word.

        Dr Du Plessis

      3. Dat die LNR-IGG versoek word om 'n steekproef te doen deur grondmonsters by 'n tweede geakkrediteerde laboratorium te laat verifieer.

        Dr Du Plessis
        Sekretaris

    3. Internasionale kompetisie in die oliemark

      Mnr Keun bevestig dat 'n wetenskaplike artikel wél gepubliseer is, en dat die tweede wetenskaplike artikel binnekort sal verksyn. Rakende die publikasie van 'n populêre artikel word gemeld dat die outeur nie by die ooreengekome datum kan hou nie as gevolg van persoonlike redes, maar onderneem het om dit teen die einde Augustus 2006 gereed te hê.

      Die Voorsitter meld dat Prof Kok, wat verbonde is aan die Universiteit van die Vrystaat, ietwat onsmaaklike kommentaar gelewer het in 'n artikel rakende die kwaliteit van sonneblomolie teenoor ingevoerde palmolie. Daar word dus gepoog word om dié misverstand aangaande sonneblomolie veral sover dit menslike verbruik betref uit die weg te ruim, deur die publikasie van artikels in tydskrifte soos You en Huisgenoot.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die publisering van die twee wetenskaplike artikels en dat die populêre artikel nog ingewag word.

        Lede
        Sekretaris

    4. Sclerotinia – terugvoering

      Dr Jos de Kock, sameroeper van die Sclerotinia-werkgroep, word versoek om terugvoering te verskaf aangaande die status quo en toekomstige verwikkelinge rondom sclerotinia wat betref sojaboon- en sonneblomsaad.

      In antwoord op 'n vraag na die vordering met die opname van die grootte van die impak van sclerotinia soos aangevra meld Me Beukes van die Oesskattingskomitee dat oor die sewehonderd vraelyste aan sonneblom- en sojaboonboere gestuur is, en dat ongeveer driehonderd van die vraelyste terug ontvang is. Dit verteenwoordig 'n respons van nagenoeg 40% en die oppervlakte betrokke verteenwoordig ongeveer 15% van die oesskatting. Op hierdie stadium is ongeveer 17% van die sojabone en 20% van die sonneblomme op die nasionale oppervlakte geaffekteer. Hierdie inligting sal verder geverifieer word aan die hand van ander opnames wat gemaak is. Mnr Potgieter berig dat die persentasie oppervlakte geaffekteer ten opsigte van sojaboon vir hom baie naby aan reg klink, aan die hand van gesprekvoering by die GSA sojawerkgroep. Voorts word berig dat die sclerotinia-probleem vergroot hoe verder daar oos beweeg word, en dat die 20% nasionale oppervlakte wat deur sclerotinia geaffekteer is, as 'n gemiddeld beskou moet word. Die impak van sclerotinia is dus waarskynlik groter in die sentrale gebiede en ooswaarts.

      Dr De Kock sê dat, aan die hand van besprekings by die vorige Sclerotinia-werksgroep-vergadering dat die gemiddelde syfer van die voorkoms van sclerotinia op sonneblom in die Noordwes provinsie 13,5% was; die syfer in Mpumalanga op sonneblom selfs soveel as 50% was, en vir sojaboon minder as 2%. In KwaZuluNatal was die voorkoms van sclerotinia op sojabone tussen 2 en 3%.

      Die Voorsitter bedank Me Beukes vir die inset gelewer en dat sy op so 'n kort kennisgewing die nodige inligting kon verkry. Die Voorsitter sê hy voorsien dat sclerotinia in die toekoms groot probleme kan veroorsaak. Mnr Oberholzer van die OVK berig aan die hand van gesprekvoering met mnr Gerrie Roets dat die sclerotinia meer noordoos voorgekom het, en dat sojaboon nie in die gebied van die OVK geproduseer word nie. Hy meld verder dat daar nie probleme ondervind is by sonneblom in die OVK-distrik nie. Daar word berig dat daar in die Piet Retief-omgewing groot skade was. Mnr Louw berig dat sclerotinia beslis voorkom in die silo's in die noordoostelike gebiede.

      Dr De Kock gaan voort met 'n voorlegging insake sclerotinia en meld dat daar 'n aantal bydraers was tot die inligting wat hy voorlê aan die vergadering. Sclerotinia is 'n fungus wat deur verskillende lewensfases gaan. Tydens een van die fases is die sclerotia baie gehard en kan in dié vorm vir 'n aantal jare voortbestaan. Die fungusspore kan die plant hoër op affekteer en infeksie binne die stam veroorsaak. Tipies word 'n wit stof geproduseer wat veroorsaak dat die plant verwelk. Die sclerotinia in die grond produseer hipotea waaruit spore ontstaan wat versprei word deur die wind, deur mense, ander plante en so meer.

      Dr de Kock skets ook kortliks die verskillende sclerotinia-verwante projekte wat tans in plek is of wat ondersoek word. In antwoord op 'n vraag na die waarde van die navorsing wat deur die Amerikaners onderneem is, antwoord Dr de Kock dat die navorsing gedeeltelik sinvol was, en dat die navorsing in Amerika die gebruik van 'n konstante fyn missproei in gekontroleerde omstandighede oor 'n lang tydperk insluit, met gevolglik beter resultate. So 'n fasiliteit bestaan egter nog nie plaaslik nie. Projekvoorleggings vir die volgende jaar sluit in inokkulasietegnieke, ondersoek na die effektiwiteit van kommersieël-beskikbare middels om sclerotinia te kontroleer, navorsing van cultivars onder beheerde omstandighede, biobeheer in kweekhuise, die entimologie van sclerotinia en saadbehandeling.

      Kennis word geneem van die inhoud van 'n dokument beskikbaar gestel deur dr Gulya en 'n span navorsers van Amerika wat uittreksels bevat van die nasionale navorsingsinisiatiewe wat tans in Amerika plaasvind. Al die belangrike sonneblomsiektes word nagevors, met die hoofdoelwit die vestiging van genetiese weerstand deur biologiese en kulturele beheer. Genetiese weerstandsnavorsing is duur, en die Amerikaanse navorsing word met belangstelling gevolg. In 2005 is $1.3m gespandeer op navorsing.

      'n Artikel wat 'n samevatting gee aangaande die maniere om sclerotinia in sojabone te beheer, word eersdaags gepubliseer. Die gebruik van 'n besondere hoë kwaliteit van gesertifiseerde sclerotinia-vrye saad is noodsaaklik. Sclerotinia kan deur stropers versprei word, daarom moet lande met sclerotinia-besmetting laaste gestroop word en oesreste verbrand word waar die siekte voorgekom het.

      Ook moet die mikroklimaat beheer en spuitbane geskep word sodat bespuiting kan plaasvind sonder dat die sojaboonplante vertrap word. Die wyse van toediening van swamdoders is belangrik omdat die die blare ook van onder benat moet word. Dr De Kock beklemtoon dat daar tans goeie internasionale samewerking en skakeling in plek is, met goeie medewerking nasionaal van staats- en private instansies en die LNR om die hulpbronne wat tans in plek is, so effektief moontlik aan te wend om die risiko te verminder. Die inset van die Nasionale Oesskattingskomitee is noodsaaklik in die poging om 'n aanduiding te kry van die belangrikheid van die siekte aangesien 'n groot hoeveelheid fondse op 'n siekte, waarvan die omvang van die werklike gevaar en belang nie seker is nie, spandeer word.

      Die Voorsitter bedank Dr De Kock vir sy voorlegging en meld dat die tegniese voorlegging gewens geag was in die lig van die impak van sclerotinia op beide sojaboon- en sonneblom gedurende die laaste besonder nat seisoen.

      In antwoord op 'n vraag of verdere sonneblom- en sojaboon-aanplantings gemaak sal word op lande waar sclerotinia voorgekom het, antwoord Dr De Kock dat 'n wisselboustelsel geïmplementeer behoort te word met die verloop van ten minste drie na vier jaar tussen in. Dr Griessel noem dat die spore vir jare in die grond kan bestaan, en selfs al is die spore in die grond aanwesig, dit nie 'n waarborg is dat die sclerotinia wel die volgende jaar sal verskyn nie aangesien sclerotinia bepaalde klimaatsomstandighede benodig om te ontwikkel. Daar word gemeld dat een van die grootste probleme in sclerotinia-navorsing is om weerstand te bewerkstellig deur die plant te besmet. Om die sclerotinia te laat ontwikkel op 'n besmette plant is problematies. Weerstand kan nie geteel word as besmetting nie bewerkstellig kan word nie.

      Dr de Kock beklemtoon die belang van iedere produseerder om te sorg dat sy praktyke reg is. Baie probleme sal so beperk word. Hy glo dat higiëniese verbouingsmetodes aanbeveel behoort te word by die land se boere, dat saad nie teruggehou moet word nie, en dat gesonde, skoon saad gebruik moet word.

    5. Voorlegging: benutting en beter benutting van sonneblom-oliekoek

      Die voorleggging staan oor tot 'n volgende vergadering wanneer 'n voedingkundige inligting sal verskaf oor die beter benutting van sonneblom-oliekoek.

  8. Aanvullende sake

    1. Plantvooruitsigte / Oesskattings

      Mnr Pretorius lig die vergadering in oor die voorgenome sonneblomaanplantings. Hy meld dat daar by GSA se Oliesade werkgroep terugvoering gevra is oor die oesskattings. Tydens die vergadering het heelwat lede berig dat produsente aangedui het dat hulle nie weer sonneblom gaan plant nie. Saadverkope is op dié stadium baie swak. Hoewel verskeie faktore 'n rol speel, is opbrengs die belangrikste. Opbrengs was nie na wense die afgelope jaar nie. Hoewel sclerotinia en klimaatsfaktore bygedra het tot die swak opbrengste, meen hy dat die huidige SAFEX-pryse die mees beduidende faktor was. Hoewel die SAFEX-pryse binnelands laer is as invoerpariteit, is dit nog baie hoog.

      Gesien in die lig van die afname in produksie van sonneblom oor die afgelope aantal jare, sal sonneblom gepropageer moet word aangesien bio-brandstof moontlik in die toekoms van sonneblom vervaardig kan word. Hy beveel aan dat die produksie van sonneblom op 'n meer georganiseerde basis aangespreek word.

      Mnr van Zyl noem dat GraanSA binne die afsienbare toekoms streekvergaderings gaan aanbied waarby potensiële produksieruimtes vir verskillende gewasse aan produsente gegee sal word. GraanSA beveel uitbreiding van sonneblomaanplantings op die vorige seisoen aan. Daar is besluit om geen aanbeveling oor sojaboonaanplanting te gee nie en dat dit aan elke produsent oorgelaat sal word om te besluit of dergelike aanplantings winsgewend is al dan nie.

      Die Voorsitter vra of dit dan wel lonend sal wees om sonneblom te plant. Mnr van Zyl antwoord dat dit vir 'n gemiddelde produsent wel lonend kan wees teen die huidige SAFEX prys, in 'n normale jaar, met gemiddelde opbrengste. Die internasionale prys en die wisselkoers in die volgende jaar sal egter 'n belangrike rol speel. Die opinie word uitgespreek dat daar klimatologies-gesproke nie verwys kan word na 'n gemiddelde jaar nie. Mnr Pretorius berig dat daar heelwat negatiwiteit rondom sonneblom bestaan in sommige streke, hoofsaaklik weens uitstaande mielie-opbrengste en die goeie mielieprys. Die vorige jaar was R1,500 'n goeie sonneblomprys, R2,000 met 'n normale oes is 'n uitstekende prys. Sy gevoel is egter dat indien daar 2,8m of 3m ha mielies aangeplant word, en die mielieprys reageer negatief en val met R200 tot R250/ton, kan produsente van mielies terug na sonneblom swaai.

      Die Voorsitter spreek sy kommer uit dat daar juis in die opkomende landbou baie aandag gegee word aan sonneblom. Indien daar gesê word dat dit lonend is om sonneblom aan te plant, en GSA aanbeveel dat sonneblomaanplanting uitgebrei word, moet aandag geskenk word aan die navorsing wat gedoen word en in watter mate die Forum behulpsaam kan wees. Daar is nie genoeg kennis aangaande die interaksie van sonneblom, soja ens. wat betref bio-brandstof nie, en daar sal ook daarna gekyk moet word. Die Voorsitter sê dat die Navorsingsprioriteitskomitee (NPK) en die Oliesade Advieskomitee (OAK) sal moet besin oor inisiatiewe om die bedryf te stimuleer.

      Besluit:

      1. Dat die NPK en die OAK besin oor inisiatiewe om die sonneblombedryf te stimuleer.

        Voorsitter
        Sekretaris

    2. Inligtingsdae

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      • Super Sojakompetisie – 26 en 27 September 2006
      • CELC Vergadering – 28 September 2006

      Kennis word voorts geneem dat 'n inligtingsdag gedurende Februarie elke twee (2) jaar deur LNR-IGG aangebied word.

    3. Strategiese plan – graanbedryf

      Mnr Keun berig dat die plan gefinaliseer is, en Mnr Louw bevestig dat die plan ook goedgekeur is. Die Voorsitter versoek dat die relevante dokumente by die volgende vergadering voorgelê word.

      Besluit:

      1. Dat 'n afksrif van die Strategiese Plan vir die Graanbedryf ingebind word in die sakelys van die volgende vergadering.

        Sekretaris

    4. Die moontlike effek van bio-diesel en bio-etanol op die oliesadebedryf: voorlegging deur Dr M Griessel, na aanleiding van 'n besoek aan Amerika, Kanada en Duitsland

      Dr Griessel lewer die volgende verslag na aanleiding van 'n PNS studietoer na Amerika, Kanada en Duitsland.

      Die vervaardiging van biobrandstof, veral biodiesel en bio-etanol, het in die afgelope paar jaar met rasse skrede gegroei en die verwagting is dat die vervaardiging in die volgende dekade teen 'n nog vinniger tempo kan toeneem. Hoewel daar in Europa ook bio-etanol vervaardig word, is die fokus veral op biodiesel. Die mikpunt is om 5,7% van biodiesel teen 2010 in diesel in te meng. Die totale dieselverbruik in Europa is 190m ton. Daar is aangedui dat die totale biodiesel verbruik teen 2015 op 17m ton sal staan. Die verwagte vraag na biodiesel wêreldwyd sal jaarliks met 3m ton per jaar toeneem. In die jaar 2006-2007 sal groot getalle fabrieke opgerig word.

      Waar daar in die VSA in die begin van die jaar 2000 minder as 7,5 biljoen liter etanol vervaardig is, is die projeksie vir 2006-2007 bykans 20 biljoen liter. Die afvalproduk DDGS (Distillers Dried Grain Solubles) wat verkry word wanneer die mielies deur die fermentasieproses gevoer word om die etanol te produseer, maak bykans 30% van die mielies geprosesseer uit. Dié afvalproduk bevat nagenoeg 28% proteïen. Die verwagte produksie van DDGS teen 2010 is 16m ton. Ongeveer 13% van mielies geproduseer in die VSA word tans aangewend vir die vervaardiging van bio-etanol. Produksie in die afgelope jaar in die VSA beloop 11biljoen skepels (bushels) of 275m ton. Die gemiddelde mielie-opbrengs in die VSA is tans 9,28 ton per hektaar. Teen heersende pryse, sal bio-etanol aanlegte mielies kan inneem teen ongeveer R598/ton. As die bio-etanolprys met dié van mielies vergelyk word, is die gelykbreeksyfer ongeveer 2,6; met ander woorde as die mielieprys R1000/ton is, dan sal die bio-etanol per kiloliter R2 600 wees, dus R2,60/liter. Daar is tans 103 etanol-aanlegte in die VSA in produksie, met 'n groot aantal in die beplanningsstadium.

      Die etanol in Europa kom hoofsaaklik van koring, rog en gars, terwyl biodiesel in die VSA hoofsaaklik uit soja vervaardig word. Daar word ook baie minder etanol in Europa vervaardig. In 2001 was daar 9 aanlegte terwyl daar tans 65 aanlegte met 'n kapasiteit van 1500m liter is. Daar word tans 50 addisionele aanlegte opgerig, met 9 aanlegte wat uitbreidings ondergaan.

      Die biobrandstof bedryf het nog nie in Kanada groot afmetings aangeneem nie. Kanada is 'n netto-uitvoerder van energie en daar is nie 'n biobrandstof program in plek van regeringskant nie. 'n Aankondiging in die verband word verwag teen Oktober 2006. Kanada beskik nie oor 'n subsidiebeleid ten opsigte van die landbou soos Europa en die VSA nie, en biodiesel word op 'n beperkte skaal deur 'n paar klein aanlegte wat nie noodwendig canola-gebaseer is nie, vervaardig. Koring word hoofsaaklik vir bio-etanol gebruik, met die hoofdoel om waarde toe te voeg.

      In Kanada word 75% van alle graangewasse soos koring en gars uitgevoer. Kanada se canola-produksie is ongeveer 8 tot 9m ton per jaar waarvan 5.3m ton uitgevoer word hoofsaaklik vir biodiesel­vervaardigingsdoeleindes. Kanada se perskapasiteit is slegs in die orde van 3,5m ton.

      Tydens gesprekvoering in Duitsland en in die VSA is bevestig dat die toename in die vervaardiging van etanol sowel as biodiesel aanleiding sal gee tot surplusse van die afvalproduk DDGS. Die proteïeninhoud van dié afvalproduk is 28%, wat kompetisie vir sojaboonoliekoek inhou. Die Promar verslag gefinansier deur die American Soybean Association toon dat 'n verlaging van 25-30% in die prys van sojaboonoliekoek verwag kan word. Indien die afvalproduk nie by die veevoermark in die betrokke lande geabsorbeer kan word nie, sal dit uitgevoer word, of alternatiewelik verbrand word om energie te verskaf. Duitsland het ook aangedui dat die oormaat canola-oliekoek as bron van energie gebruik sal moet word indien dit nie vir veevoer aangewend kan word nie. Druk sal ook op die prys van sojabone geplaas word. Studies toon egter dat die toename in die prys van olie daarvoor sal kompenseer. Omdat die oliekoek veral ten opsigte van soja 'n belangrike deel van die totale inkomste uitmaak, speel dit 'n belangrike rol in die winsgewendheid van 'n biodieselaanleg. Oliekoek verteenwoordig 80% van die sojaboon.

      'n Aanleg sowat 80km uit Berlyn in Duitsland verwerk sowat 100 000t raapsaad per jaar. Hier is een van die afvalprodukte, gliserol, drie jaar gelede teen €450 per ton van die hand gesit. Die prys het sedertdien gedaal na €50 per ton as gevolg van die geweldige produksie van gliserol. Ten opsigte van koolsuurgas as afvalproduk by die bio-etanol aanlegte, meld Dr Griessel dat die gas wel aangewend kan word in die vervaardiging van bv sodawater, maar dat die volumes sodanig is dat die koolsuurgas bloot in baie gevalle vrygelaat word in die atmosfeer.

      Aangesien DDGS slegs 8% van die totale inkomste by 'n etanolaanleg in die VSA verteenwoordig, is die bemarking en prys daarvan nie so krities nie. Die motivering vir die vervaardiging van biobrandstowwe word amptelik geskoei op die hoë brandstofpryse, die steeds dalende ru-olie voorrade, en omgewingsfaktore soos suurreën wat die plantegroei nadelig beinvloed. Die studiegroep het waargeneem dat die hoofrede vir dergelike vervaardiging grootliks op die landbou gebaseer is. Landbou-subsidiëring raak onbekostigbaar en is ook teenstrydig met die standpunt van die Wereldhandelsorganisasie (WHO). Die Wereldhandelsorganisasie het egter besluit dat om biobrandstofvervaardiging te subsidieer nie teen WHO reëls is nie. Dit het ook uit gesprekke geblyk dat waarde suksesvol toegevoeg word tot 'n basiese kommoditeit soos byvoorbeeld mielies weens die gunstige grondstof/brandstof prysverhouding.

      'n Belangrike waarneming is dat regeringsbeleid duidelik geformuleer en in plek moet wees vir die biobrandstofbedryf om op 'n volhoubare grondslag suksesvol te wees. Die studiegroep het tot die gevolgtrekking gekom dat daardie regerings wat nie meer die subsidies kon bekostig nie, met alternatiewe planne vorendag gekom het om die subsidies vry te spring. In Duitsland het die regering finansiële ondersteuning verskaf vir die oprigting van biobrandstofaanlegte, waarna 'n belasting gehef is op die brandstof met 'n gevolglik voortdurende bron van inkomste.

      In die VSA is 'n aanleg wat 50m gelling etanol per jaar vervaardig besoek. Die aanleg word besit deur 725 boere. Die regering het $7,5m begroot vir ontwikkelingskoste oor 'n tydperk van twee jaar, en gee 'n verdere 20c per gallon tov die eerste 12,5m gelling geproduseer, en 5c vir die volgende 12,5m gelling oor 'n tydperk van vyf jaar. 'n Verdere subsidie van 51c per gallon staan bekend as die Blenders' Tax Credit, en word aan die raffinadery gegee ten tye van die inmengingsproses. Daar is dus geweldige aansporingsmaatreëls in plek. Staatsonderseuningsmaatreëls verskil uit die aard van die saak van land tot land, en binne 'n land ook tussen gewasse. Daar is byvoorbeeld nie ondersteunings-maatreëls in plek vir canola nie, maar wel vir soja. Noord Amerika (byvoorbeeld Noord-Dakota) bied ideale omstandighede vir die verbouing van canola maar soja word geproduseer omdat sojaproduksie gesubsidieer word. In Duitsland bied die regering 'n eenmalige belegging in die vorm van 'n subsidie ten opsigte van die die oprigting van 'n aanleg, maar dan word die raffinaderye verplig om biobrandstowwe in te meng, wat 'n goeie prys sal verseker vir grondstowwe. Daar word nou beoog om biodiesel te belas, wat die regering sal verseker van 'n konstante inkomstestroom. Dit staan teenoor 'n landbousubsidie.

      Dit is duidelik dat die toenemende vraag na biobrandstof 'n impak op die grondgebruikspatroon sal hê. Kompetisie word voorsien tussen die boere wat sojabone plant vir biodiesel en boere wat mielies plant vir bio-etanol. Landbou sal hieruit voordeel trek. In die VSA word voorsien dat sojagrond omskep kan word in mieliegrond terwyl die sojabedryf die teenoorgestelde beweer. Feit is dat daar kompetisie gaan wees. Sojaboon produseerders is bekommerd oor die impak van DDGS en 'n konferensie word in 2007 in Illinois aangebied oor hierdie aangeleentheid. In Europa sal grond vir oliesade sterk kompeteer met grond wat tans onder graan is, met canola wat koring tot 'n groot mate vervang. Waarneming dui ook daarop dat logistieke oorwegings by die oprig van aanlegte belangrik is veral ten opsigte van ligging. Produkte moet na-aan die markte vervaardig word. Infrastruktuur soos water, elektrisiteit en raffinaderye moet reeds in plek wees - dit vergemaklik ook die vermenging van die etanol in die brandstof.

      Baie voedingskundiges is huiwerig om DDGS in voerrantsoene te gebruik a.g.v. die groot variasie in die kwaliteit daarvan, en probleme ondervind met mikotoksiene. Mielies bevat ongeveer 9% proteïene, wat vermenigvuldig word met drie wanneer die stysel deur 'n fermentasieproses verwyder word. Indien mikrotoksienes voorkom, vermenigvuldig dit insgelyks met drie. Voorts is daar so 'n druk op verhoogde produksie dat die DDGS oorverhit word tydend droging, met die gevolg dat 'n reaksie plaasvind wat die listiene en aminosure totaal ontoeganklik maak. In Minnesota is gevind dat DDGS baie groot voordele inhou indien goeie vervaardigingspraktyke gevolg word. Daar is bevind dat dermontsteking by varke met gebruik van hierdie produk uitgeskakel word. By melk en vleisbeeste waar melksuurasidose of suurpens voorkom, kan die produk tot groot voordeel aangewend word aangesien dit geen stysel bevat nie. DDGS het 'n groot toekoms as proteïen mits dit reg aangewend word en goeie bestuurspraktyke in plek is. Die nat produk het 'n rakleeftyd van slegs 3 tot 4 dae in die somermaande. Dis veral van belang in 'n streek soos Bothaville. Dr Griessel bespreek ook kortliks waardevolle navorsingsbevindinge en die aanwending van nuwe tegnologie.

      Die Voorsitter verduidelik dat Dr Griessel gevra is om die voorlegging te doen aan die Sojaboon- en Sonneblomforum veral in die lig van die verwagte kompetisie tussen die gewasse by die produksie van biobrandstof. Sonneblom is een van die gewasse wat in die proses mag seerkry. Soortgelyk sal die oliekoeke en die DDGS uit die graanprodukte in die veevoerbedryf teen mekaar kompeteer. Dit sal ook geweldig impak hê op die sojaboon-sonneblombedryf. Die PNS sal verdere navorsing doen veral met voedingsproewe, en die Forum sal op hoogte gehou word daarvan. Dr Griessel se voorlegging sal elektronies beskikbaar gestel word. Die finale volledige verslag sal ná September beskikbaar gestel word.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die voorlegging van dr Griessel rakende 'n studietoer na Amerika, Kanada en Duitsland insake biobrandstowwe.

        Lede
        Sekretaris

    5. Sojaboonroes

      Die Voorsitter meld dat 'n vergadering van die Sojaboonroes-taakspan bygewoon is, dat terugvoer ontvang is, asook 'n uiteensetting van navorsing vir die volgende jaar.

      Mnr Keun word versoek om die notule van die Sojaboonroestaakspan-vergadering vir die huidige jaar, asook die projekte wat by die taakspanvergadering bespreek is, aan die volgende vergadering voor te lê.

      Besluit:

      1. Dat mnr Keun versoek word om die notule van die vergadering van die Sojaboonroestaakspan sowel as n lys van die projekte wat bespreek is by die vergadering in te bind in die volgende sakelys van die Forum.

        Sekretaris

    6. Items vir nuusprogram op die radio

      Die Voorsitter vra dat enige nuus-items tydig aan Mnr Keun verskaf word vir die landbou radioprogram wat van Maandae tot Woensdae uitgesaai word.

    7. SAFEX

      Die Voorsitter noem dat SAFEX reeds 'n paar keer op die vergadering bespreek is, en dat die SAFEX-dokumentasie as Bylaag D ingesluit is. Die aangeleenthede het spesifiek betrekking op GSA, en Mnr Keun meld dat Mnr Nico Hawkins aangedui het dat GSA die vergadering sou bywoon en ter gelegener tyd terugvoering sal verskaf. Mnr van Zyl bevestig dat die SAFEX-vergadering spesifiek oor die SAFEX-kontrak wel gehou is. Daar is op die vergadering besluit om nie die vervoerdifferensiaal in te stel nie; dat die grootte van die sojaboonkontrak op 25ton per kontrak behou sal word, en dat die aantal SAFEX-geregistreerde silo's vir die lewering van sojabone vermeerder word van veertig na vyftig. Een van die silo's wat moontlik sal bykom is Viljoenskroon. Die Voorsitter reël dat die vergadering kennis neem van die inligting, maar versoek egter dat die inligting op skrif gestel en aan Mnr Keun gestuur word. Mnr van Zyl onderneem om die tersaaklike amptelike kennisgewing van SAFEX aan Mnr Keun te verskaf.

      Besluit:

      1. Dat mnr Van Zyl versoek word om die inligting rakende die vervoerdeffirensiaal, die grootte van die sojaboonkontrak en geregistreerde silo's skriftelik te kommunikeer.

        Mnr Van Zyl

    8. SASOL

      Mnr van Zyl lewer verslag dat Sasol by ITAC 'n aansoek om 'n rabat op die invoertarief van sojabone ingedien het, spesifiek t.o.v. sojabone ingevoer vir die vervaardiging van bio-brandstof. Die kennisgewing is in die Staatskoerant gepubliseer, en ITAC wag tans kommentaar vanaf industrie in. Daar word gemeld dat GSA die aansoek ondersteun op voorwaarde dat die invoere pertinent vir bio-brandstofvervaardiging aangewend sal word; ook dat die rabat wegval sodra binnelandse produksie na behore gestimuleer en op voldoende vlakke is, en dat die rabat nie net vir SASOL nie, maar vir enige vervaardiger van biobrandstof sal geld. Die vergadering neem kennis van die inligting, en die Voorsitter meld dat die uitslag van die aansoek op die volgende vergadering bespreek sal word. Mnr Louw beklemtoon dat die krities-belangrike faktor is dat die ingevoerde sojaboon slegs vir die vervaardiging van bio-brandstof aangewend sal word.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die mondelinge terugvoer wat ontvang is rakende die aansoek van SASOL om 'n rabat op die invoertarief.

        Lede
        Sekretaris

    9. Voedselhigiëne / veiligheid

      Mnr Louw meld dat die eerste vergadering rondom veilige voedsel wat ook aan higiëniese standaarde voldoen met die betrokke rolspelers gehou is. Die druk raak al groter van die aankopers wat voorskriftelik is met die vereistes wat gestel word aan produseerders. Die aankopers is bereid om sekere kostes self te dra. Die betrokke rolspelers is versoek om insette te lewer voor 'n sekere datum, en 'n volgende vergadering sal op 14 November gehou word met die doel om protokolle te formuleer wat uiteindelik vir die aankopers bv. Woolworths, Pick and Pay, ens aanvaarbaar sal wees. Daar moet duidelikheid wees oor elke skakel in die ketting. Dieselfde reëls moet van toepassing wees op plaaslike en ingevoerde produkte, ongeag die grootte of ligging van 'n aanleg, of die saad ingevoer of self plaaslik produseer word, of plaasopberging of kommersiële opberging gedoen word - almal sal oor dieselfde kam geskeer word. Die industrie sal dit kontrolleer. Mnr Potgieter meld dat produsente reeds aangesê is om GAP (Good Agricultural Practices) te implementeer. Goeie rekordhouding sal van noodsaaklike belang wees. Goeie aanvoorwerk is reeds gedoen, maar die proses moet nou geformaliseer word. Dit moet op so 'n manier ten boek gestel word dat die inligting vir almal beskikbaar sal wees, in 'n verstaanbare vorm, en dat die totale ketting inkoop in die proses.

      Die Voorsitter som op deur te stel dat die kwessie van voedselveiligheid en -higiëne ten opsigte van alle aspekte van die soja- en sonneblomindustrieë geopper is, en dat al die betrokkenes kennis geneem het hiervan. Hy versoek dat die Forum op hoogte gehou word van verwikkelinge in dié verband.

  9. Datum van volgende vergadering

    Die volgende vergadering vind plaas op 17 November 2006.

  10. Afsluiting

    Aangesien daar geen verder sake vir bespreking is nie, verdaag die Voorsitter die vergadering om 13:00