Canolafokus 111 Junie 2023
Swamdoders teen swartstam en sclerotinia – pasop vir onbeplande gevolge
Swartstam van canola word beheer deur agronomiese praktyke soos wisselbou te integreer met cultivar-weerstand en chemiese beheer. Produsente is egter grootliks afhanklik van swamdoders om Sclerotinia stamvrot van canola te help beheer. Dit is deels as gevolg van die vermoë van sclerotias (oorlewingstrukture) van die swam Sclerotinia sclerotiorum om jare lank in grond te oorleef, tesame met die lae vlak van weerstand in canola cultivars. As deel van 'n groter projek op swartstam van canola, wat deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) befonds word, word daar gekyk na beheer van swartstam deur middel van swamdoders. Dit behels veldproewe by verskillende lokaliteite waar die effektiwiteit van verskillende swamdoders om swartstam te beheer geëvalueer word, asook 'n studie om te bepaal of daar weerstand in die plaaslike swartstam populasie teenoor swamdoders voorkom en indien wel, in watter areas en teen watter middels. In twee nuwe studies, ook befonds deur OPOT, gaan daar gekyk word na swamdoder-deposisie op canola, asook die beheer van Sclerotinia stamvrot van canola deur middel van swamdoder toediening.
In hierdie artikel word weerstand van swartstam teen swamdoders bespreek, en hoe produsente moet oplet na hoe swamdoder toediening teen hierdie twee siektes bestuur moet word om die risiko van ontwikkeling van swamdoder weerstand by swartstam te beperk.
Swamdoders plaaslik geregistreer teen swartstam en sclerotinia stamvrot
In die laaste jare is vyf kommersiële chemiese swamdoders onderskeidelik teen swartstam en Sclerotinia stamvrot van canola in Suid Afrika geregistreer (Tabelle 1 en 2). Die registrasie van hierdie swamdoders is van groot waarde vir produsente, aangesien tydige en effektiewe toediening van swamdoders swartstam goed kan beheer, en daardeur die afhanklikheid van cultivar-weerstand om die siekte te beheer, kan verlig. Die noodsaaklikheid van swamdoders om Sclerotinia stamvrot te beheer, word ook deur die beskikbaarheid van geregistreerde swamdoders aangespreek. Die aktiewe bestanddele van die swamdoders geregistreer teen hierdie twee siektes strek oor drie chemiese groepe, naamlik die demetielase inhibeerders (DMIs, oftewel triazole), die strobiluriene en die "succinate dehydrogenase inhibitors" (SDHIs) (sien Tabelle 1 en 2).
Produk | Aktiewe bestanddeel + chemiese groep | FRAC kode |
---|---|---|
Amistar | Asoksiestrobien (strobilurien) | 11 |
Aviator | Bixafen (SDHI) + protiokonasool (DMI) | 7.3 |
Faculty top | Pikoksistrobien (strobilurien) + protiokonasool (DMI) | 11.3 |
Prosaro | Protiokonasool (DMI) + tebuconasool (DMI) | 3 |
Santana | Protiokonasool (DMI) | 3 |
Produk | Aktiewe bestanddeel + chemiese groep | FRAC kode |
---|---|---|
Amistar | Asoksiestrobien (strobilurien) | 11 |
Aviator | Bixafen (SDHI) + protiokonasool (DMI) | 7.3 |
Contans | Biologiese produk (formulasie van Coniothyrium minitans) | NVT |
Prosaro | Protiokonasool (DMI) + tebuconasool (DMI) | 3 |
Protect | Furfural (aldehied) | NVT |
Score | Difenoconazole (DMI) | 3 |
Weerstand teenoor swamdoders
Die afhanklikheid, oormatige en/of onoordeelkundige gebruik van swamdoders om siektes te beheer lei dikwels tot die ontwikkeling van weerstand teenoor die betrokke swamdoders. Swartstam is geen uitsondering nie. In 'n onlangse studie in Australië is 397 populasies van Leptosphaeria maculans (die swam verantwoordelik vir swartstam) geëvalueer vir swamdoder weerstand teenoor al die swamdoders geregistreer teen swartstam. Die studie het bevind dat 15% van die populasies, oftewel 60 uit 397 populasies, oor 'n hoë vlak van weerstand teenoor veral die DMI (triazool) swamdoders beskik. Verder is daar ook weerstand opgetel teenoor 'n nuwe kombinasie middel bestaande uit 'n DMI + strobilurien, alhoewel die vlakke daarvan laag was. Tot op hede is die vlak van weerstand teenoor die SDHI nog baie laag.
Navorsing oor swamdoder effektiwiteit vind dikwels plaas wanneer weerstand reeds ontwikkel het. Dit beteken dat daar dan beperkte inligting verkrygbaar is oor die vlak van weerstand in die swampopulasie alvorens swamdoder-toediening begin het, asook die tempo waarteen weerstand in die populasie toeneem. Met die onlangse registrasie van SDHI swamdoders in Suid Afrika teen swartstam van canola, het ons egter 'n goeie geleentheid om die basisvlakweerstand teenwoordig in die swampopulasie te bepaal en dan te moniteer vir veranderinge in weerstand soos die gebruik van die middels toeneem. Vroeë opsporing van swamdoderweerstand is van kernbelang om die lewensduur van aktiewe bestanddele te beskerm en te verleng.
Raad aan produsente
Ongeveer 95% van die canola produsente in die Wes Kaap dien te minste een swamdoder per seisoen toe, om óf swartstam, óf Sclerotinia stamvrot te beheer, of twee toedienings om beide siektes te beheer. Swamdoders teen swartstam word op die 4-5 blaar groeistadium toegedien, terwyl swamdoders teen Sclerotinia stamvrot teen ongeveer die 30% blomfase toegedien word. Wanneer produsente swamdoders toedien om swartstam te beheer, moet hulle bedag wees daarop om nie net die aktiewe bestanddeel nie, maar ook die chemiese groep waaraan die swamdoder(s) behoort, af te wissel wanneer swamdoders later in die seisoen teenoor Sclerotinia stamvrot aangewend word. Die rede hiervoor is dat wanneer die swamdoder toediening teenoor Sclerotinia stamvrot gemaak word, daar steeds heelwat blare met swartstam-letsels teenwoordig is waarin L. maculans aktief groei, wat dan blootgestel word aan die swamdoder(s). Produsente kan dus onwetend die risiko verhoog dat swartstam weerstand teenoor swamdoders opbou. Ter illustrasie kan 'n produsent Santana op die 4-5 blaar groeifase teen swartstam aanwend, en dan Prosaro op 30% blomfase teenoor Sclerotinia. Beide hierdie middels bevat egter protiokonasool as aktiewe bestanddeel, en daardeur word die risiko dat weerstand teenoor protiokonasool kan ontwikkel, verhoog. Die hoër konsentrasie van die aktiewe bestanddeel in Santana kan oor tyd ook veroorsaak dat die laer konsentrasie van dieselfde middel in Prosaro, oneffektief raak. Verder moet produsente ook in ag neem dat die meeste van die swartstam teenwoordig in die huidige canola afkomstig is van spore wat op die vorige seisoen se stoppels oorleef het. Hierdie spore kan maklik 500m ver deur middel van die wind versprei om infeksie te veroorsaak. Ter verdere illustrasie: Indien Santana en/of Prosaro op die vorige seisoen se canola toegedien was, sal die risiko dat weerstand teenoor hierdie aktiewe bestanddele ontwikkel verder verhoog word wanneer hierdie middels weer in die huidige seisoen aangewend word. Daarom is dit belangrik om die aktiewe bestanddele nie net binne die seisoen nie, maar ook tussen seisoene af te wissel, om sodoende die risiko dat weerstand ontwikkel te verlaag en die lewensduur van die aktiewe bestanddele te verleng.
Dit is verder ook belangrik dat swamdoders streng volgens aanwysings toegedien moet word. Deur die dosis te verlaag ten einde kostes te besnoei, kan die effektiwiteit van die swamdoder gekortwiek word, want groter getalle van die patogeen kan oorleef en sodoende word die kans vir swamdoderweerstand vergroot. Die tydsberekening van bespuitings is ook belangrik. Genoegsame kontak tussen die chemikalieë en die plantweefsel is nodig vir optimale beskerming, dus behoort plante so droog as moontlik te wees ten tye van bespuitings en ook vir 'n periode daarna. Vermy dus bespuitings kort na of voor reënval.
Verwysings
- Fungicide resistance: facing the challenge: a review.
Hollomon DW, 2015. Plant Protection Science 51: 170-176. - Fungicide sensitivity and resistance in the blackleg fungus, Leptosphaeria maculans, across canola growing regions in Australia.
Van de Wouw AP, Scanlan JL, Marcroft SJ, Smith AJ, Sheedy EM, Perndt NW, Harrison CE, Forsyth LM and Idnurm A, 2021. Crop and Pasture Science 72: 994-1007. - Fungicide resistance: Progress in understanding mechanism, monitoring, and management.
Yin Y, Miao J, Shao W, Liu X, Zhao Y, and Ma Z, 2023. Phytopathology 113: 707-718.
Enquiries
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Private Bag, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation