Canolafokus 115 Oktober 2023
Artikels indekse
Canola: Opbrengsverlies
Berekening van oesverlies van canola
Canola: Opbrengsverlies
Platsny of direkstroop – hoe besluit ek?
- Canolaplante en -peule wat vervleg is in mekaar, se risiko vir oesverliese as gevolg van wind is minder (Canola Council of Canada).
- Plante wat baie insekskade of haelskade het, se risiko vir oesverliese is dus groter.
- Onkruide en die af-tipe canola plante (figuur 2) van teruggehoude canolasaad bly langer groen, wat direk oes kan bemoeilik.
- Die hoë voorkoms van siektes soos Sclerotinia (figuur 1) en swartstam het tot gevolg dat plante vroeer ryp word as ander en die risiko van oesverliese verhoog.
- Canola wat omgeval het moet naby die grond platgesny word; die probleem is dat daar dan nie staande stokke is wat die ry help anker in die wind nie.
- Die nuwer cultivars is meer springtraag en minder geneig tot oesverliese.

Platsny
Canola wat platgesny is, is gewoonlik vroeër as staande canola gereed om te oes. Volgens die Canola Council of Canada is vroeg platgesny nie noodwendig gelykstaande aan vroeg oes nie.
Canola wat te groen platgesny word, neem baie langer om gereed te wees vir oes as canola wat teen 60% saadverkleuring platgesny is.
- Te vroeg platsny kan beteken dat die gewas nie sy volle opbrengs- en kwaliteitpotensiaal bereik nie; pitte met te veel chlorofil kan voorkom wat 'n negatiewe rol speel in die gradering van die saad.
- Vermy platsny tydens warm (30ºC of meer) en droë weer, aangesien vinnige uitdroging wat onder hierdie toestande voorkom, veroorsaak dat prosesse in die plant stop en pitte met te veel chlorofil kan voorkom.
Korrekte stadium van platsny
Volgens die Kanadese moet 60% van die sade op die hoofhalm al verkleur het. In Kanada word daar egter met veel hoёr saaidigthede as plaaslik gewerk. Die aanbeveling by laer saaidigthede is om die heel plant te evalueer en op 60% verkleuring plat te sny. Pitte wat nie al hul olie en proteïne vasgelê het op die stadium van platsny nie, ontwikkel nie verder nie. Die jongste pitte op die plant moet reeds ferm wees as dit tussen die vingers gerol word.

Bepaling van % saadverkleuring
- Pluk 1 peul op die middelste derde van die hoofhalm.
- Pluk 3 peule van die middelste derde van die syhalms.
- Herhaal 5 keer in 'n area (20 peule).
- Beweeg na vier ander areas in die land en herhaal bogenoemde prosedure tot daar 100 peule is.
- Breek die peule oop en versamel die saad in 'n bak.
- Vergelyk kleur met onderstaande skaal soos bepaal deur Department of Primary Industry, New South Wales (GRDC, 2020).
Die syhalms dra tot 75% van die oesopbrengs by, die syhalms verkleur later as die hoofhalm. Deur net die hoofhalm te gebruik vir die bepaling van die platsnystadium kan tot groot verliese bydra.

Direkstroop
Wanneer direk gestroop word, kry elke plant die kans om sy volle potensiaal te bereik, soos deur die heersende klimaat toegelaat word. Die risiko van saad wat verlore kan gaan weens windskade voor die oesproses begin vergroot op lande wat ongelyk ryp word. Daar moet gewag moet word dat alle plante se voginhoud eers laag genoeg daal alvorens daar geoes kan word.
Belangrik: die doodspuit van canola voor oes
Die begrip doodspuit van canola, moet hergedifineer word. Diquat se metode van werking behels die beskadiging van selmembrane en inmenging met fotosintese. Diquat word na verwys as 'n droogmiddel, omdat dit 'n blaar of 'n hele plant vinnig laat uitdroog. Canolaplante wat met 'n droogmiddel (Diquat) gespuit word, sal nie die saad se volwassenheid bespoedig nie, maar die saad vinniger laat uitdroog en dit moontlik maak om vroeër te oes.
❜❜Let asseblief: daar is 'n belangrike onderskeid tussen (a) volwassenheid van saad en (b) saad met 'n voginhoud gereed vir oes
Droogmiddels soos diquat STOP basies die plant om volwasse te word. Dit kan tot gevolg hê dat hoë fraksie van groen sade kan voorkom, aangesien die ontwikkeling van jonger sade onderdruk word. Dis hoekom die % saadverkleuring by die doodspuit van canola uiters belangrik is en korrek bepaal moet word. Die Saadverkleuring wanneer canola doodgespuit gaan word, moet 90% wees.

Pitvastheid en peulval
Produsente moet twee belangrike dinge weet:
- Canolacultivars het nie almal dieselfde vlak van pitvastheid nie, hoewel hierdie eienskap van cultivars baie verbeter het oor die laaste aantal jare.
- Pitvastheid voorkom nie die afbreek van peule nie (peulval). Dit bly dus 'n risiko wanneer canola direk gestroop word. Die slotsom is: pitvastheid verminder die risiko van opbrengsverlies by direkstroop, maar dit verminder nie heeltemal die risiko van peulval en gevolglike saadverlies nie.
Kanadese navorsing en waarnemings rapporteer dat die eienskappe deur verskillende gene beheer word. 'n Canola saadverliesstudie deur die Universiteit van Manitoba het bevind dat genotipe die primêre eienskap van pitvastheid is, terwyl omgewing saam met genetika die hoofoorsaak vir peulval is.
Daar is in die verlede indirek geselekteer vir pitvastheid in die teelprogramme. Die telers van canolacultivars in Australië sny nie die canola plat nie maar oes direk.
Berekening van oesverlies van canola
Dis belangrik om oesverliese te beperk en sodoende die optimale opbrengs te verkry – die regte verstelling op die stroper is dus van kardinale belang. Dit is belangrik om die verliese te meet. Dit is egter 'n moeilike proses om die verliese te bereken. In hierdie artikel word die berekening van oesverliese aangetoon, asook verskillende artikels en 'n skakel om die berekening vir die produsent te doen: "Harvest Loss Calculator".
Die stroperverliese word soos volg gemeet:
- 'n Twee-liter roomysbak(ke) word tydens die stroopproses voor tussen die wiele van die stroper neergesit.
- Alle blare en stokkies moet sorgvuldig verwyder word vanuit die roomysbak(ke) nadat die stopper verby beweeg het.
Oppervlakte van roomysbak | = lengte x breedte |
= 23,7 cm x 16 cm | |
= 379,2 cm² (Australië gebruik roomysbak met 220 cm²) | |
Formule soos vervat in "Calculating Harvesting Losses" |
LET WEL : NOODSAAKLIKE INLIGTING
(daar word gewerk met 0.1 m² in die formule)
* 0.1 m² = Een roomysbak x 2.63
# Canola se gemiddelde waarde vir 100 kg saadverlies = 267 sade per 0.1 m²
BELANGRIK : NEEM MEER AS 1 MONSTER
Stroperverlies (kg ha-2) vir canola (raadpleeg figuur 1):
- Verlies oor siwwe: (Gemiddelde aantal sade *per 0.1 m² ÷ #267) x 100
- min "front" verlies (*telling per 0.1 m² ÷ #267) x 100
- vermenigvuldig met sifwydte (1.5 m) ÷ deur snywydte (9 m) (bv. x (1.5 ÷ 9)
NB: Let daarop dat vooroesverliese kan en/of moet ingereken word (volg skakels):

Voorbeeld vir lupiene
- Lupiene se gemiddelde waarde vir 100 kg saadverlies = 7 sade per 0.1 m².
- 'n Gemiddeld van 22 lupiensade per 0.1 m², siwwe 1,5 meter breed, 9 meter wyd gesny en met vooroesverliese en "front" verliese van onderskeidelik 71 kg ha-1 en 72 kg ha-1.
MASJIENVERLIES = [(22 x 100 ÷ 7) – 71 kg – 72 kg] x (1,5 ÷ 9) = 28 kg ha-1
Voorbeeld vir canola
- Canola se gemiddelde waarde vir 100 kg saadverlies = 267 sade per 0.1 m².
- 'n Gemiddeld van 105 canolasade per bak (gemiddelde telling per bak x 2.63 = telling per 0.1 m²), siwwe 1,5 meter breed, 9 meter wyd gesny met "front" verliese van 26 sade.
VERLIES OOR "FRONT": (26 x 100 ÷ 267) = 9,7 kg ha-1
MASJIENVERLIES = (276 x 100 ÷ 267) x (1,5 ÷ 9) – 9.7 = 7.3 kg ha-1
Enquiries
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Private Bag, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation