Canolafokus 110 Maart 2023
Risikobestuur in 2023 weens 'n tekort aan eerstekeuse canolasaad
"Making good decisions is the hardest part of farming ..."
(KAHAN, 2008)
Boere neem elke dag besluite wat boerderybedrywighede raak. Baie van die faktore wat die besluite beïnvloed, kan nie met volle akkuraatheid voorspel word nie. Dit noem ons risiko. Boerdery word al hoe meer riskant namate boere meer kommersieel raak. Boere moet risiko verstaan en risikobestuursvaardighede hê om probleme beter te antisipeer en gevolge te verminder.
" ALVORENS 'N BOER 'N NUWE PRAKTYK TOEPAS MOET HY EERS DIE OMVANG VAN DIE RISIKO VERSTAAN "
Om doeltreffende besluite te neem, benodig boere inligting. Boere moet maniere vind om risiko te hanteer en hulself teen die onsekerhede van die toekoms te beskerm (Kahan, 2008).
Identifiseer die oorsaak van die risiko
- Daar is byna geen Clearfield- (Cl) of eerste keuse Cl-cultivars beskikbaar vir die 2023-groeiseisoen nie.
- Jaarliks is nagenoeg 40% van die aanplantings Cl-cultivars en daar word begroot vir 'n totale canola-aanplanting van 130 000 ha in 2023.
- Plase is in 'n wisselboustelsel en produsente kan gedwing voel om teruggehoude canolasaad te plant.
Identifiseer potensiële uitkoms as gevolg van die plant van teruggehoude saad
(Plaaslike data van 2022):
- Die saailingoorlewing is 32% swakker.
- Die plante blom oor 'n langer periode en veral later as die gesertifiseerde saad.
- Die swartstaminfeksie kan tussen 11 tot 20% verhoog.
- Die olie-inhoud daal met 0.8%.
- Die opbrengs neem met -5.5% tot -24.1% af (12.2% gemiddeld).
Bepaal strategieë
(Indien teruggehoude saad geplant word)
- Saai saad met 'n deursnee groter as 1.7mm.
- Ontkieming van die saad moet verkieslik 90% en beter wees.
- Saai teen hoër saaidigtheid as vir gesertifiseerde saad weens die moontlike afsterf van saailinge. (Hierdie is 'n funksie van saadgrootte, partymaal is die saad baie kleiner en dan kan dit dalk veroorsaak dat die stand te dig is.)
- Saadbehandeling is voordelig; daar is 2 produkte in RSA geregistreer as saadbehandeling vir swartstamonderdrukking naamlik:
- Celest® XL (Groep 4 & 12); en
- Galmano® (Groep 3, DMI-groep).
- Die meng van gesertifiseerde saad en teruggehoude saad is nie wenslik nie. Oorweeg om die saad apart te plant om bestuur te vergemaklik.
- 'n Swartstambespuiting op 4- tot 6-blaarstadium moet sterk oorweeg word.
Bepaal die gevolge van elke strategie
Dit kan in twee opsies verdeel word naamlik, plant van teruggehoude saad of ander tipe canolacultivars.
- Teruggehoude saad se saadopbrengs is laer as die opbrengs van gesertifiseerde saad van dieselfde cultivar.
- Onkruidbestuur is moeiliker of selfs onmoontlik deur die plant van ander tipe cultivars as gevolg van onkruiddoderweerstand.
- Indien 'n Triasienbestande (TT)-cultivar in die plek van 'n konvensionele- of Cl-cultivar geplant word, kan die opbrengs met tussen10% en 20% daal.
- Die swartstaminfeksie neem toe en kan 'n probleem in die 2024-seisoen en selfs daarna skep deur die verhoogde siektedruk op die plaas.
Evalueer die koste van die risiko en die voordele
- Die voordele en noodsaaklikheid van 'n gesonde wisselboustelsel is welbekend. Canola pas baie goed in 'n wisselboustelsel in en moet altyd oorweeg word.
- Teruggehoude saad is goedkoper (wat as trekpleister kan dien) as gesertifiseerde saad, maar dit hou bepaalde risiko's in.
- Die koste van die risiko word deur klimaat, genetika en markkragte bepaal.
- Daar kan nie 'n monetêre waarde en omvang gekoppel word aan die oordrag van swartstam na komende seisoene nie.
- 'n Laer olie-inhoud van die saad kan die prys van die produk beïnvloed. Indien daar te veel teruggehoude saad aangeplant word, kan dit tot nadeel wees van die produsent wat wel gesertifiseerde saad aanplant en 'n hoë gehalte produk produseer.
- Opbrengs het in proewe (2022) met tussen 5.5% en 24.1% afgeneem (12.2% gemiddeld).
- Die inkomste weens die aanplant van teruggehoude saad daal met R2440 per ha (2 ton ha-1 opbrengs @ R10 000 ton-1).
Bronne
- Managing risk in farming.
Kahan D., 2008 - Die gevare van teruggehoude saad.
Lombard P., Smorenburg L. en Strauss J., Canolafokus 109, Januarie 2023
Enquiries
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Private Bag, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation